Masincedane is ‘n nie-winsgewende organisasie (NPO) en is geregistreer by die Ontvanger van Inkomste as ‘n artikel 18A organisasie. NPO: 152 – 157 en SARS: RG?0018/02/07
Masincedane is ‘n werk- en sorgsentrum vir die erg verstandelik en/of fisiese gestremde volwassene tussen die ouderdom van 19 en 55 jaar. Ons vier hierdie jaar ons 10de bestaansjaar.
Wat beteken erg verstandelik gestremd vir die leek? Die funksionering van ‘n persoon is omtrent ‘n kwart van sy/haar ouderdom, bv. as ‘n persoon 18 jaar oud is, funksioneer hy/sy op ‘n 4-5 jarige vlak. Daar is wel uitsonderings waartydens ‘n persoon ‘n intelektuele vlak van 5 jaar handhaaf, maar baie handvaardig is.
Hierdie gestremde persone het ‘n behoefte om sosiaal in te pas, iewers te behoort en ook betekenisvol te funksioneer, net soos ek en jy. Ons bied aan die lede ‘n dagsorggeleentheid in ‘n aangename sosiale omgewing waarin hulle ‘n aktiewe bydrae kan lewer tot die samelewing. Die program se hoofdoel is om stimulerend van aard te wees en sodoende vir hulle nuwe vaardighede te leer (bv tokreen, leerwerk, naaldwerk, lapverf, “deco podge”, pottebakery en kralewerk). Rekenaar- klasse word aangebied om sodoende hul geheue te verbeter en hulle ook blootstelling te gee aan tegnologie op ‘n basiese vlak. Die lede geniet ook tans jukskei waartydens hulle die geleentheid kry om aktief deel te neem in ‘n span en die buitelewe te geniet.
Die Heidelbergse en omgewing gemeenskap maak dit moontlik vir beskutte werkstake waarvoor die lede dienooreereenkomstig vergoed word, bv. verpakking van voorraad in kartondose en sakkies, sortering, vou en plak van korrespondensie.
Masincedane vra nie geld nie, slegs die geleentheid om diens, met gewillige hande, te verrig.
Handvervaardigde items word te koop aangebied vir die publiek tydens plaaslike kunsmarkte asook op aanvraag.
Om ‘n plek te skep waar verstandelik en/of fisies gestremde persone, vanaf 19 tot 55 jaar, se waardigheid en lewenskwaliteit sodoende verbeter kan word op ‘n dagsorgbasis deur die verskaffing van stimulasie deur middel van konstruktiewe en betekenisvolle aktiwiteite. Dus, integrasie in die gemeenskap, asook die daarstelling van ‘n sosiale omgewing waarin sulke persone veilig en tuis voel en waar ‘n maksimale vlak van funksionering aangemoedig en gehandhaaf word.
Hierdie projek is op ‘n Christelike geloofsbasis gebasseer en poog om die gemeenskap op verskeie vlakke betrokke te maak by die bekragtiging van verstandelik en/of fisies gestremde persone in die omgewing.
Masincedane het die volgende ten doel: